Grap-man Johan Brümmer, oftewel Fatman, is gebore om mense te vermaak met sy kenmerkende stem en groter-as-lewe persoonlikheid. Hierdie eienskappe was ook instrumenteel om musiekliefhebbers se harte te verower tydens die blinde oudisies van die tweede seisoen van die M-Net-werklikheidsprogram, The Voice SA.
Sy passie vir musiek is op ‘n jong ouderdom aangevuur, toe hy besef het dat hy die vermoë het om mense te vermaak. Hy het op tienjarige ouderdom sy verhoogdebuut gemaak en was maar net sestien toe hy by restaurante begin optree het om ’n ekstra inkomste te verdien. Alhoewel sy pa aanvanklik nie wou hê dat hy ‘n loopbaan in musiek na skool moes volg nie, kon hy nie afgeskrik word nie en het musiek aan die Pretoria Musiekakademie en Unisa gaan studeer.
Fatman het gedurende die vroeë 90’s sewe jaar saam met sanger, Pieter Smith, opgetree. Musiek het egter oor die jare sy hoofbron van passie en inkomste gebly.
“Ek was bevoorreg genoeg om ’n bestaan te maak deur te doen waarvoor ek lief is. Ek glo werklik dat wanneer jy doen waarvoor jy lief is, geld sal volg,”
Nadat hy drie-en-twintig jaar lank sy eie ding gedoen het, het sy familie besluit dis tyd dat hy The Voice SA betree. Hulle het ‘n video-opname gemaak van hom wat Mika se Grace Kelly opvoer en dit as ‘n video-inskrywing vir die kompetisie ingestuur. Die liedjie, wat verskeie aspekte van sy talent ten toon gestel het, het hom ‘n plek in die blinde oudisierondtes van die program verseker. Die Parlotones-voorsanger, Kahn Morbee, het byna dadelik sy stoel gedraai nadat hy hom hoor sing het, en het sy afrigter geword vir die duur van die vertoning. Hy was ook die een wat hom aangemoedig het om Afrikaanse liedjies te sing.
Fatman se geestige persoonlikheid en verhoogteenwoordigheid het hom onmiddellik ‘n gunsteling onder die skare gemaak en dit was nie lank nie of byna die helfte van die ateljee-gehoor het in soortgelyke hoede geklee gekom ter ondersteuning van die kunstenaar. Hy het in die Top 5 van die kompetisie geëindig en is dankbaar vir die positiewe impak wat dit op sy loopbaan gehad het.
Na die Voice SA tot op hede het Fatman verkeie treffers uitgebring soos, Dorp Toe, Vuil Coke, Kamp Kommandant, O My Vy en Ditjies & Datjies saam met Lianie May. Hy toer ook die land vol met uitverkoopte shows vanaf Pretoria regdeur tot in die hartjie van Namibia