Liedjieskrywer en sangeres Liza Brönner het groot geword in Centurion en al op skool gewys dat sy van sang ’n loopbaan kan maak met die wen van verskeie kompetisies en toekennings.
Die bal is egter behoorlik aan die rol gesit nadat Andries Botha haar in 2008 op “Dis Hoe Dit Is” gesien en vir haar ’n CD kontrak beding het. Vandaar het sy oral in Suid-Afrika begin optree, en die verhoog met van die land se grootste name gedeel.
Vir haar eerste CD “Onderstebo” was Liza genommineer vir ’n Tempo Toekenning as beste Nuweling en vir haar “Jy het my gevind” CD was sy genommineer vir twee Ghoema Toekennings as beste kontemporêre album en ook as beste vroulike kunstenaar.
Liza het haarself bewys as sangeres en aktrise toe sy met die “Jy is my Liefling” kroon weg gestap het in die 2013 realiteitsreeks op KYKNET en die verhoog gedeel het in die bekroonde “Liefling” verhoog produksie met Bobby van Jaarsveld.