Refentse Morake is een van Suid-Afrika se mees geliefde en unieke kunstenaars. Hy het in 2015 landswyd aandag getrek toe selfoonvideo’s van sy vertolkings van Afrikaanse treffers soos “Lisa se Klavier” en “De la Rey” op sosiale media versprei het. Kort daarna het hy ’n platekontrak by Sony Music se Select Musiek geteken en die verhoog gedeel met kunstenaars soos Karen Zoid.
Sy debuutalbum, My Hart Bly in ’n Taal, en opvolg Deur My Venster, het dubbel platinumstatus bereik. Met albums soos Liefdegenerasie en Wandel in Woning het Refentse sy plek as ’n kragtige stem in die Afrikaanse musiekbedryf gevestig.
Met sy voete steeds stewig op die grond, ’n hart vol dankbaarheid en ’n boodskap van waarheid, vrede, hoop en liefde, skryf en sing Refentse liedjies wat harte aanraak.
Sy jongste enkelsnit, “Nykie”, wys weer sy unieke vermoë om lirieke, emosie en talent saam te smelt. Afrikaans is dalk sy vierde taal, maar dit is die taal van sy hart – en dis duidelik in elke noot wat hy sing.